AfriForum dien minagtingsklag in teen Malema, EFF oor volgehoue aanhitsing tot grondbesetting: @afriforum het vandeesweek ’n aansoek om minagting van die hof teen die EFF en die party se leier, Julius Malema, by die Hooggeregshof in Pretoria ingedien. Die aansoek volg op die EFF en Malema se hernude oproepe tot onwettige grondbesetting, ondanks ’n hofbevel wat AfriForum in 2017 bekom het wat hulle verbied om enige dergelike oproepe te maak. AfriForum vra in sy jongste hofaansoek dat Malema en die EFF aan minagting van die hof skuldig bevind word en dat Malema ’n boete van R500 000 en gevangenisstraf van 18 maande, of ’n ander gepaste sanksie, opgelê word. AfriForum se aansoek om minagting van die hof volg op ’n hofbevel wat op 7 Maart 2017 in AfriForum se guns uitgereik en op die EFF en Malema beteken is. Dié bevel verbied die EFF en Malema om enige persoon aan te hits, aan te moedig, te beveel of te werf om grond sonder die nodige toestemming van die eienaar of wettige bewoner te betree. Sedertdien het die EFF en Malema verskeie onsuksesvolle pogings aangewend om die bevel tersyde te laat stel. Kostebevele is in dié uitsprake in AfriForum se guns gegee. Die party en sy leier het hulle uiteindelik tot die Konstitusionele Hof en die Hoogste Hof van Appèl gewend. Die aansoek by die Konstitusionele Hof is in Maart 2023 van die hand gewys, waarna die aansoek by die Hoogste Hof van Appèl in Junie daardie jaar ook misluk het. ’n Tweede poging om die bevel by die Konstitusionele Hof tersyde te laat stel, is ook in September 2023 van die hand gewys. #Grondbesetting #Malema #AfriForum